29/11/2025
‘N W Ê R E L D
- aan ‘n charger gekoppel
Deur Jannes Erasmus
die duiwel het nie meer net horings nie,
hy het WiFi.
hy dra nie meer net rooi en ry op rook en vuur nie,
hy verskyn onskuldig as ‘n “new notification.”
ons dra nie meer ‘n Bybel saam nie
ons dra chargers (vir alles, orals).
ons praat nie meer met God nie
ons praat met Google, ChatGPT en ander AI.
ons soek nie waarheid nie
ons soek net wat trend.
ons word groot gemaak met klein skerms
maar klein gemaak deur groot verwagtings.
kyk vir geweld, vir misdaad en hoe die wêreld brand…
terwyl ons dit “stream.”
harte is op airplane-mode
terwyl koppe oorlaai word met data.
vol kennis…
maar min wysheid.
vol feite…
maar min fondasie.
ons skerms is skerp,
maar ons visies is dof.
ons leef in hoë resolusie
maar lae openbaring.
helde is pixels:
bekend vandag,
vergete môre.
ons het duisende followers
maar min om werklik op te vertrou.
genot was iets om te voel,
nou is dit iets om te bewys.
liefde is nou ’n “swipe”-knoppie,
en ‘n hulpkreet word in stilte getik.
ons is so vry
dat nie respek of waardes meer heilig is nie.
so oopkop
dat die waarheid uitloop.
ons siel kry net kits-scroll-kos
en bly honger.
ons poseer vir die wêreld
maar breek in die badkamer.
ons het soveel menings,
maar so min betekenis.
ons weet meer
maar ons verstaan minder
ons aanbid influencers
wat ons net beïnvloed
om meer gereeld
minder te voel
as die onrealistiese standaard
ons maak plek vir elke opinie,
elke identiteit, voornaam en voegsel
elke nuwe “waarheid”…
maar die fondasie
raak dun.
geloof…
eens ’n anker,
nou ’n fluister in die geraas
van môre se vergete trending topic.
God word net getag
wanneer ons in nood is
want ons log NOOIT meer uit nie.
altyd aanlyn
ons gee groter skerms
aan kleiner kinders
en hoop die wêreld word groter –
maar dit word net kleiner.
meer lig.
minder lig.
ons kan deesdae alles sê
maar min bedoel.
die wêreld luister
maar ons harte word gemute.
ons wen die wêreldbeker in HD…
en verloor onsself in 4K realiteit.
wanneer het ons vergeet hoe menslikheid
lyk, klink, voel
miskien is dit tyd
om die skerms weg te pak…
en die Here se hand te vat
want die werklikheid verkoop
die hier en die nou
maar Hy is die enigste een
wat jou naam gaan onthou.
©️ Jannes Erasmus